So, jy wil aan ’n redenaarskompetisie deelneem? Fantasties! Maar … uhm … waar gaan jy ’n toespraak kry? Moenie bekommerd wees nie, ons het ’n klompie wenke wat jou sal help om ’n fantastiese toespraak te skryf!

Wat is redenaars?
Het jy senuwees van staal? Is jy ’n ou of meisie met ’n mening? Hou jy daarvan om jou sê te sê? Dan sal jy redenaars geniet!

Almal weet dit verg hope moed om ’n toespraak voor ’n klomp mense te maak. Die doel van ’n redenaars toespraak is om die gehoor te vertel wat jy van ’n sekere onderwerp dink. Jy gee dus jou mening en probeer die gehoor van jou standpunt oortuig.

Dis makliker gesê as gedaan!

5 wen-wenke vir ’n treffer-toespraak
Waarna let die beoordelaars op wanneer hulle na ’n redenaars toespraak luister? Lizelle van Staden, organiseerder van die landwye ATKV-Redenaarskompetisie, het ’n paar wenke met ons gedeel wat jou kan help om ’n wentoespraak te skryf – en die beoordelaars se voete onder hulle uit te slaan!

Wenk #1
Dink mooi oor jou onderwerp. Oorweeg al jou opsies. Kan jy daaroor redeneer? Kan jy daarteen én daarvoor praat? Besluit wat JY wil sê. Waarvan wil jy jou gehoor presies oortuig? Formuleer jou onderwerp sodat die gehoor duidelik kan hoor waarvan jy hulle wil oortuig.

Wenk #2
Kan jy aan drie GOEIE redes dink om jou gehoor van jou standpunt te oortuig? Kies drie logiese en onafhanklike argumente. Onthou, jy moet redeneer en nie net inhoud of feite weergee nie. Jou gehoor moet verstaan hoekom jy jou standpunt inneem.

Wenk #3
Het jy navorsing gedoen om aan jou gehoor te bewys dat jy weet waarvan jy praat? Noem jou bronne deeglik en onthou die wie, wat, waar en wanneer. Byvoorbeeld: “Dawie Roodt, ekonoom, in Beeld, 14 April 2016.” Maak ook gebruik van logiese voorbeelde uit jou eie lewe. Die mense wil ook weet hoe JY oor die saak voel.

Wenk #4
Doen moeite met jou taalgebruik. Gebruik goeie Afrikaans wat nie te maklik of te moeilik vir jou ouderdomsgroep is nie. Kleur dit in met idiome, spreekwoorde en uitdrukkings. Wees kreatief.

Wenk #5
Struktureer jou toespraak sodat dit logies is. Dit help die gehoor om jou toespraak te volg en jou argumente beter te onthou. Hier is ’n nuttige raamwerk wat baie goed werk wanneer jy ’n toespraak skryf:

Onderwerp gekies: ______________________________

1. Inleiding
2. Standpunt
3. Argument 1 met bewyse/voorbeelde/inligting (+ oorgang)
4. Argument 2 met bewyse/voorbeelde/inligting (+ oorgang)
5. Argument 3 met bewyse/voorbeelde/inligting (+ oorgang)
6. Samevatting
7. Slot

Hoe lank moet my toespraak wees?

Redenaarskompetisies se reëls verskil. Voor jy jou toespraak begin skryf, maak seker hoe lank jy het om dit te lewer. ’n Mens praat gemiddeld teen ongeveer 130 woorde per minuut. As jou toespraak dus byvoorbeeld 4-6 minute lank moet wees, moet jou toespraak tussen 520 en 780 woorde lank wees. Dit is egter net ’n riglyn – wanneer jy jou toespraak begin oefen, is dit belangrik om ’n stophorlosie te gebruik en seker te maak dit is nie te lank of te kort nie.